Welcome

Let's have some fun together!

Tuesday, May 29, 2012

Man & Vrou

'n Vriendin deel vandag die met my en dit is so skerp en pittig, ek moes dit net met jou deel! :)

Die Huwelik:

Hierdie is uit Mark Gungor se aanbieding Laugh Your Way to a Better Marriage.

Lees maar met deernis....

Daar is baie navorsing wat bewys dat getroude mense langer lewe en gesonder is as ongetroudes. Hulle het meer geld en beter seks. Google dit as jy my
nie glo nie.

Maar om al die voordele van die hemelse huwelik te ontsluit, moet jy 'n paar dinge weet. Ja, mans en vroue verskil, maar dit is juis hierdie verskille wat maak dat julle 'n wonderlike verhouding kan hê. Daarom moet jy weet hoe om hierdie verskille tot jou voordeel te gebruik. En die belangrikste
verskil is ons koppe!

Vroue maak graag 'n kop-probleem 'n hart-probleem. En dit maak jou onnodig ongelukkig. As jy die volgende verstaan, gaan jou huwelik soveel makliker raak.

'n Man se brein bestaan uit boksies...

In 'n man se kop is daar duisende boksies wat hy versigtig oopmaak as iemand daardie spesifieke onderwerp aanraak. Amper soos 'n outydse liasseerkabinet, jy kan net een laai op 'n slag ooptrek. As jy oor die kinders praat, maak hy daardie boksie oop, sonder om aan die ander boksies te raak.

As jy dan skielik oorslaan na sy werk, Saterdag se braai en skoolgeld, spook hy vreeslik om eers die kinderboksie toe te maak en dan die werk-boksie oop te maak. En terwyl hy nog besig is met werk, trek jy al by skoolgeld en maak sommer 'n draai by die vullissak wat uitgesit moet word ook. Sjoe!

Die gevolg is dat hy wild deurmekaar raak en eers 'n stil hoekie moet gaan kry om al sy boksies weer toe te maak en te bêre ... en te probeer
verstaan hoekom jy nou boonop vir hom kwaad is. Dis dan dat hy sy gunsteling boks nader trek... sy niks-boks. En in sy niks-boks is daar net mooi niks. Dis dolleeg.

So, as jy al ooit gewonder het, dit is hoekom mans breindooddinge soos visvang ure lank kan doen. Hy gooi die lyn in en klim in sy niks-boks. In sy niks-boks is daar nie tyd nie, nie werk nie, nie jy nie, nie eks-meisies nie, nie sluwe planne nie, nie duistere begeertes nie... Daar is niks nie.

Moenie dit probeer verstaan nie, glo dit net. En nee... jy kan nie saam met hom in sy niks-boks klim nie, want dan word dit 'n iets-boks!

'n Vrou se brein bestaan uit miljoene drade. Hierdie komplekse draadnetwerk in vroue se breine veroorsaak dat alles in jou lewe en gedagtes gelyktydig aan alle ander goed verbind is. Amper soos die internet. Alle inligting is heeltyd beskikbaar. Dis totaal onverstaanbaar vir enige man.

As jy aan iets dink, word die nimmereindigende stroombaan geaktiveer en elke gedagte veroorsaak 'n nuwe een. Dit is hoekom jy die een oomblik aan jou uitrusting vir vanaand kan dink en die volgende oomblik aan jou laerskool juffrou... en wonder hoe op aarde jy daarby uitkom. Maklik. Jy is so
gemaak. 'n Vrou kan nooit aan niks dink nie. Heeltemal onmoontlik. Maar dit weet jy seker al.

Hierdie draadnetwerk en veral die niks-boks kan 'n man en 'n vrou nogal vreemd vir mekaar maak. Kyk byvoorbeeld hoe verskillend julle stres hanteer, gesels en luister. Mans en vroue stres anders, as die stresgolwe jou man begin karnuffel, gaan sit hy in sy niks-boks. Dan gebeur die volgende:

Sy: Waaraan dink jy?
Hy: Niks.
Sy: Hoekom wil jy nie met my daaroor praat nie?!

Jy, aan die ander kant, móét praat as jy stres anders gaan jou kop ontplof. Daarom kan jy nie verstaan dat jou man stilbly nie... en aan níks dink nie?

Jy wil nie regtig raad of 'n oplossing hê nie. Jy wil net daaroor praat. En dis nogal moeilik vir jou praktiese man om te begryp. Hy wil graag jou probleem oplos, maar hy weet nie wat om vir jou te sê nie en hy weet nie hoe jy voel nie.

Hmm, hy moet niks sê nie, net luister. En jy weet self nog nie hoe jy voel nie  jy is dan nog besig om die drade te verbind! So, as jy stres, is sy beste raad vir jou: Hou op om daaroor te dink. En jou beste raad vir hom is: Praat daaroor!

Mans en vroue praat anders. Vroue praat nie net meer woorde as mans nie, maar die woorde wat hulle gebruik, beteken nie dieselfde nie, al word hulle eenders geskryf. Kyk na die volgende voorbeelde:

5 minute: Vir 'n man beteken dit 60 sekondes, vyf keer na mekaar. Maar vir jou kan dit enigiets tussen 10 minute en 'n ewigheid beteken!

Niks: Teen hierdie tyd behoort jy te weet dat niks vir 'n man presies niks beteken nie. Maar vir jou kan hierdie vierletterwoordjie so gelaai wees met betekenis dat selfs jy sal sukkel om dit te verstaan.

'n Sug: As jou man sug, beteken dit alles is lekker. Aaa... Lekker... As jy sug, wel, is niks volgens jou lekker nie! Of jy's moeg gewag, jy dink jou man is dom, jy wens jou lewe was anders... Of enige van die duisende ander boodskappe wat jy met een enkele sug probeer weergee.

Gaan aan: 'n Man bedoel dit hoflik. Gaan aan met waarmee jy besig was, sê wat jy besig was om te sê, loop voor. Enige man met goeie maniere sê dit gereeld. Maar as jý sê 'gaan aan' moet wie ook al onmiddellik met wat ook al stop! Of!!

Jy sien, 'n man word gebore met die minimum vereiste hardeware. Maar jy kry sommer baie ekstra RAM.  Daarom het woorde vir jou meer as een betekenis en kan jy nooit (behalwe as daar niks fout is nie!) in een of twee woorde antwoord of verduidelik nie. Jy het immers 20 000 woorde per dag om te gebruik!

Mans, weer, gebruik hulle 10 000 woorde spaarsamig. As jy hom vra hoe was sy dag, sal lekker vir hom 'n aanvaarbare, volledige antwoord wees. Maar as hy vra hoe was jou dag, sal jy elke oomblik se gebeure herleef en 'n verkorte weergawe in net onder 'n uur kan gee.

In navorsing wat met kleuters gedoen is wat speel, is iets interessants bevind. Die dogtertjies hou nooit op met praat nie, selfs al is hulle
alleen. En net 50% van wat seuntjies sê, was verstaanbaar! Brrrrmmm, doef,bam-bam, ra-ta-ta-ta-ta-ta-ta... jy kry die prentjie.

Mans en vroue luister anders

Jy weet nou al van die boksies in sy brein. Om te verstaan hoe mans luister, moet jy aan 'n ouerige rekenaar dink. As hy besig is om te lees en jy begin met hom praat, moet hy eers sy leesprogram toemaak. En dit vat 'n rukkie.
Dan moet hy sy luisterprogram oopmaak. Maar teen daardie tyd trek jy al 'n paar gedagtes verder en het hy heeltemal die draad verloor. Dan sit hy met 'n enorme dekoderingsprobleem en moet hy reboot voordat hy enigiets verder kan doen. Waarskynlik staan jy nou ook al te ver weg vir hom om ordentlik te hoor. Want anders as hy, kan jy stofsuig, televisie kyk en praat tegelyk. Hy kan nie. Dit is hoekom mans baie keer uitblink in wat hulle doen, hulle kan fokus. Sonder dat enigiets hulle aandag aftrek!

Mark vertel dat wanneer hy vroue vra om die perfekte man te beskryf, hulle eintlik hulle beste vriendin beskryf. Dit is dalk tyd dat jy besef jou man is nie 'n vrou nie. Maar 'n os. Wat mis. Maar wat jou ook beskerm, koester, bemin en soms help om skoon te maak waar hy gemors het... nadat jy hom minstens vyf keer gevra het. Want onthou, die eerste paar kere beland dalk in die niks-boks!

Moenie kwaad word oor julle verskille nie. Omhels dit en bewonder die unieke maniere waarop God mans en vroue gemaak het. Daar is 'n plan daarmee. En hou op om oor "NIKS" te baklei!

Groete,
Lizette

---------------------------------------
PREVENT SPAMMING. IF YOU  ARE FORWARDING THIS MESSAGE WITH PERMISSION, PLEASE REMOVE MY EMAIL ADDRESS AND USE THE BCC ADDRESSING BOX.
 
This communication is solely intended for the addressee. If you received it in error, kindly notify the sender immediately and delete all copies.

This communication is intended only for the use of the person or entity named above and may contain information that is confidential or legally privileged.  If you are not the intended recipient named above or a person responsible for delivering messages or communications to the intended recipient, YOU ARE HEREBY NOTIFIED that any use, distribution, or copying of this communication or any of the information contained in it is strictly prohibited.  If you have received this communication in error, please notify the sender immediately. 

Please consider the environment before printing this message. 
Thank you.

No comments:

Post a Comment